Alle Wonderwerke en Genesing kom van God
 

Daar is baie mense wat van die veronderstelling uitgaan dat slegs God siekes kan gesond maak en wonderwerke kan verrig. Daarom, so glo hulle, as iemand genees of wonderwerke doen beteken dit dat daardie persoon deur God geseën is en dat die bediening eg is. Dit is egter nie waar nie. Wonderwerke kan geensins ‘n bediening waarmerk nie en wonderwerke bewys ook niks omtrent die bron van die prediker se kragte nie.

In die algemeen is genesings en wonderwerke so nou verwant dat die Bybel geen onderskeid tref nie – genesing is net ‘n onderafdeling van wonderwerke en daarom gaan ek slegs na wonderwerke of tekens verwys en daarmee sluit ek dan alles in wat wonderbaarlik is, insluitend genesing en ander charismatiese verskynsels.

Ons lees in Eksodus 7 en 8 dat die towenaars van Egipte in staat was om die meeste van Moses se wonderwerke na te maak. Ons weet nie of hulle inderdaad die wonders gedoen het nie en of hulle net van truuks of kulkunsies gebruik gemaak het, soos dit die geval is met die moderne verhoog “towenaars” nie. Dit is belangrik want baie van die moderne wonderwerke wat nie van God is nie, kan werklike wonderwerke wees wat deur Sataniese kragte verrig word of dit is net doodeenvoudig slim truuks en oëverblindery. Kwaksalwers sal enige van hierdie metodes gebruik om mense te mislei, net so lank hulle hulle doel kan bereik.

Reeds so vroeg as Deuteronomium 13 waarsku die Here al teen valse profete wat in staat is om tekens en wonders te verrig. Hierdie wonderwerke moet egter aan die leringe van die profeet gemeet word en indien die profeet se leringe vals is, dan is die wonderwerke ook nie eg nie (Deuteronomium 13:1-3). Dit blyk dat hierdie tekens en wonders ook die vermoë om die toekoms te voorspel, insluit.

Jesus het gewaarsku dat daar baie sal wees wat daarop aanspraak sal maak dat hulle in Sy Naam duiwels uitgedryf het, gepreek en wonderwerke verrig het. Maar Hy sê dat Hy hierdie mense nie ken nie en dat hulle bestem is vir die ewige verderf. Jesus het gewaarsku dat wonderwerke, duiweluitdrywing en prediking nie bewys is van die egtheid van die bediening nie en dat ‘n mens na die vrugte van die predikers se lewe moet kyk om te bepaal wat die bron van sy krag is (Matteus 7:15-23).

Matteus 24:24 sê: Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. Die woord “christusse” verwys nie hier noodwendig na die Antichris nie, maar beteken letterlik “die gesalfdes”. Daar is baie wat deesdae daarop aanspraak maak dat hulle gesalf is en wonderwerke verrig. Maar hulle is nie ware boodskappers van die Kruis nie, maar veel eerder gesante van Satan. Dit is belangrik om daarop ag te slaan dat hulle “groot tekens en wonderwerke” sal doen en dat die wonderwerke so oortuigend sal wees dat almal behalwe diegene wat werklik gered is, daardeur mislei sal word. (Sien ook Markus 13:22.)

Paulus waarsku dat daar vals apostels sal wees wat soos die ware Jakob sal lyk: “Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien” (2 Korintiërs 11:13-15). Een van die tekens van ‘n apostel was wonderwerke en genesing (2 Korintiërs 12:12). Daarom moet ons versigtig wees, selfs al lyk hierdie mense soos ware apostels en vertoon hulle al die tekens van ware apostels. Daar is sekere predikers wat deesdae daarop aanspraak maak dat hulle engele sien en selfs met hulle in gesprek tree. Dit is dan hierdie engele wat hulle bemagtig om wonderwerke te doen. Maar, daardie engele kan demone wees of selfs die Duiwel self.

Een van die kenmerke van die Antichris is allerhande vals tekens en wonders wat genesing insluit. Hierdie wonderwerke sal nie net ‘n uitvloeisel van sy werk wees nie maar die kern daarvan. Dit sal ook nie net netjiese kulkunsies wees nie maar dit sal “met groot magsvertoon” (dunamis) wees. “Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders” (2 Tessalonisense 9:2). Daarom moet ons versigtig wees as iemand sy bediening net op tekens en wonders baseer, want dit is presies wat die Antichris gaan doen.

Tekens en wonders is nie net die wyse waarop die uiteindelike Antichris te werk gaan gaan nie. Ons moet ook onthou dat daar baie ander is wat ook antichriste is omdat hulle hulle in die plek van Christus plaas. Hulle metodes en die bron van hulle krag is egter dieselfde as die van die uiteindelike Antichris: “Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is” (1 Johannes 2:18).

Die vals profeet waarvan Openbaring melding maak, gaan sy misleiding en werke hoofsaaklik op wonderwerke baseer. Die meeste van die tyd wat Johannes na hom verwys, verwys hy na hom as die een “wat die wondertekens” gedoen het (Openbaring 19:20). Hy gaan groot tekens doen en selfs vuur vanuit die hemel op die aarde laat afkom. Hy sal ook daartoe in staat wees om die beeld van die Antichris lewendig te maak. Ons weet nie of hy die tegnologie gaan gebruik, dit net oëverblindery gaan wees en of dit werklik gaan wees nie, maar dit sal oortuigend genoeg wees vir al die volke en nasies van die wêreld om dit te glo en hom te volg (Openbaring 13:11-15). Openbaring 18:23 sê: “deur jou bedrog is al die nasies mislei.”

Daar is heeltemal te veel gelowiges wat naïef genoeg is om te glo dat dit net God is wat wonders kan doen en dat almal wat wonderwerke doen daarom ‘n man van God moet wees. Dit is presies die leuen wat die duiwel wil hê jy moet glo. Oor die afgelope honderd jaar is duisende mense verlei om demone te volg, bloot net omdat die prediker die een of ander geheim kon blootlê of omdat hy die een of ander wonder kon verrig.

Ja, God doen vandag nog wonders (want vir elke nagemaakte moet daar die egte wees) maar ‘n wonderwerk self kan nie die persoon wat die wonderwerk doen, eg verklaar nie. Ons het duidelike riglyne hoe ons hierdie mense moet beoordeel. Ons moet kyk na hulle leringe en die vrugte van hulle lewens. As hierdie twee dinge nie daarvan getuig dat hy ‘n ware man van God is nie, dan moet ons hardloop asof ons lewe daarvan afhang. Daar is sommige demoniese wonderwerke wat werklik is, maar die meeste is bloot oëverblindery en daarom sal dit die moeite werd wees om ondersoek in te stel na hoe eg die wonder is. Byvoorbeeld, as iemand skielik in staat is om vanuit ‘n rolstoel op te staan en oor die verhoog te hardloop, dan moet ons twee dinge vasstel: Eerstens, was die persoon in die rolstoel daar vir ‘n lang tyd of het hy in die rolstoel gaan sit toe die diens begin het? Tweedens, indien die persoon werklik nie kon loop nie, is hy ‘n week na die “wonderwerk” steeds in staat om te loop?

Nee, dit nie verkeerd om wonderwerke en hulle oorsprong te bevraagteken nie. As meer mense net ‘n bietjie meer onderskeiding aan die dag gelê het, sou Satan nie die tallose volgelinge gehad het wat hom aanbid terwyl hulle dink dat hulle die ware God aanbid nie. Dit is tyd dat ons wakker word en die misleiding opmerk.